Saturday, 30 November 2013

Geestelike hongerte


Alle mense word gebore met 'n gees wat gevoed moet word.  Alle mense het voedsel vir hulle gees nodig, en almal is bewus van hierdie leemte hier diep binne hul wat gevul moet word met iets, maar ons besef nie dis geestelike hongerte nie.  En omdat ons nie altyd besef dis 'n geestelike hongerte nie,  voed die mens sy gees met die verkeerde goed, soos kos, drank, dwelms of seks.  Ander teer weer op menslike liefde en aanvaarding, en dan kry jy selfs diegene wat floreer op twis - wat voedsel kry deur ander baie seer te maak (emosioneel).
  Die mens span sy sintuie in om sy honger te stil, maar omdat hulle dit met die verkeerde goed probeer stil, is dit van korte duur.  Die ore wil mooi woorde hoor, dit laat hom gevly voel en voed sy gees.  Die ander wil mooi dinge om hom sien en die besit daarvan maak dit nog beter en so voed hierdie mens sy gees.  'n Volgende een gebruik dwelms of drank of albei om sy honger gees te stil, want die dwelms of die drank laat hom so goed voel dat hy dink dit is wat hy nodig het om hierdie leemte binne hom te vul.  'n Ander een het weer seks nodig vir sy hongerte en so kan ons aangaan en aangaan en aangaan….  Maar ons almal het net een ding nodig om ons honger gees te stil - MANNA!  Die Brood van die Lewe!  Jesus!  Matt 4:4:  "Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan

Jesus misbruik

Ek kan net dink hoe misbruik en fustreerd Jesus moes voel op aarde toe Hy sien hoe mense Hom misbruik.  Die een geval is in Joh 6 waar die mense na Hom gestroom het omdat hulle sy tekens gesien het wat Hy aan die siekes doen. (v2)  Hulle het Hom nie kom soek oor wie Hy is of omdat hulle regtig wou kom hoor wat Hy sê nie, maar hulle het geweet Hy kan hulle genees van hulle siektes.  Jesus het dit geweet en Hy het ook geweet hulle het 'n geestelike hongerte wat gevul moet word.  Daarom het eers Hy die brood en vis vermeerder om hul fisiese hongerte te stil.  Want wanneer hul honger maag versadig is, sou hul die volgende dag nogsteeds hierdie leemte diep binne hulle gevoel het en dalk besef dit is nie fisies nie, maar geestelik.  Miskien sou hulle dan verstaan as Jesus aan hulle verduidelik dat dit hulle gees is wat eintlik honger is en hulle die Brood van die Lewe nodig het.  

Die volgende dag het die mense Jesus weer kom soek en Hy sê vir hulle:  "Julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het.  Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee;  want Hom het God die Vader, verseël." (v26,27)
Hulle wou weet wat hulle moes doen om die werke van God te volbring?  En Jesus het hulle geantwoord dat hulle in Hom moes glo, want Hy is die ware Brood wat vanuit die hemel kom en lewe gee.  V35:  "Ek is die brood van die lewe;  wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie;  en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.   Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het, en tog glo julle nie."  Hulle het nie van Sy woorde gehou nie en het begin murmureer.  Maar Hy het verder verduidelik dat die brood - manna - wat hule voorvaders in die woestyn geëet het, nie die lewende Brood was nie, want die voorvaders het daardie brood geëet, maar tog gesterwe.  Die enigste brood wat ons gees versadig is die Lewende Brood, Jesus Christus.

V51:  "Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het.  As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid.  En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee."

V53:  "…as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie."

V56:   "Wie My vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom."

V57:  "Soos die lewende Vader My gestuur het, en EK deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe"

Die mense het niks van hierdie woorde van Jesus gehou nie, en het omgedraai en weggestap, en net 12 mense het oorgebly.  Hoe jammer!  Hulle het 'n kans gehad om van die ware Brood van die hemel te eet, sodat hulle gees gesond en versadig kon word, maar hulle het verkies om eerder hulle vlees te voed met fisiese brood.  

Die selfsug van die mens

Wat hier in Joh 6 gebeur het, maak my skoon hartseer, want dit dui op die mens se selfsug en die mens wat net sy eie maag of sy eie vlees altyd versadig wil kry.  Die mens fokus so op homself en sy eie bevrediging van sy eie behoeftes.  Alles draai vir die mens oor homself, en dis so verkeerd.  Ons fokus moet op Jesus wees, ons hele aardse bestaan moet gaan oor Jesus, nie oor onsself nie.  Ons probeer die lewe vir onsself so maklik en lekker as moontlik maak, ons fokus nie op die hoofgedagte van ons bestaan nie.  Weet jy dat jy deur God op aaarde is om vir Hom iets te doen?  Elkeen wat hier op aarde van God af is, is nie hier vir homself nie.  Ons is nie hier om te trou en kinders te kry en te kyk hoeveel geld ons kan maak nie.  Ons is nie hier om ander te beïndruk nie.  Ons is hier vir God se gebruik. Maar ons kan eers ons doel op aarde heeltemal verstaan wanneer ons in God se volle lig staan, want dan gee Hy ons ook die krag om te doen wat ons moet doen. Hy rig ook eers elkeen op vir sy werk.  Dit gebeur nie oornag nie, dit is 'n lang proses en dit vat ook toewyding van ons kant af.  Om elke dag 'n gedeelte van jou wêreldse bestaan op te offer en te wy aan God.  As ons nogsteeds elke dag ons wêreldse goedjies gaan doen i.p.v om by God se voete te gaan sit, gaan jy nie opgerig word in jou doel nie.  Jy voed dan jou vlees en nie jou gees nie.  Jou gees sal nie gevoed word en groei tot sy volle potensiaal as jy jou heeldag besig hou met wêreldse dinge nie.  Want jy is besig om jou vlees en jou siel te voed.  Ons vlees en siel moet eerder honger lei, voed jou gees met die brood van die lewe wat die Woord is.  Tyd saam met God in Sy Woord en in gebed.  Gebed is so baie belangrik, dat jy vir God op 'n ander manier leer ken.  Aan die begin voel dit vir 'n mens snaaks dat jy vir so lank stilsit en net praat met iemand wat vir jou met die oog nie daar is nie.  Maar God is daar!  As jy met Hom gesels, sal Hy nooit NIE daar wees nie.  Later van tyd sal jy Hom wel begin voel daar by jou, hou net uit en hou aan bid!  Pak jou hele hart, al jou gedagtes uit voor Hom, Hy verstaan.  In daardie tye kom werk die Here aan jou hart, in jou verstand, in jou binneste bestaan.  God kan jou genees van enigiets, Hy kan jou liggaam genees, jou siel genees van seer, maar dit gaan toewyding van jou kant af vat.  Om in God se geselskap te sit, is die wonderlikste ding wat ons kan doen!  Moenie 'n mens se geselsskap verkies bo God s'n nie.  En dan sal God jou lewe kom regmaak, jou siel en liggaam genees, maar ons onthou, genesing begin in die gees!  Dit is 'n proses, nie 'n wonderwerkende towerwoord nie.  Daardie mense van Joh 6 was baie siek, want dis hoekom die eerste skare daar agter Jesus aangeloop het.  Hulle het gehoor Hy genees mense van hul siektes en hulle het soveel siektes gehad wat genees moes word.  Maar Jesus wou eers hê hulle moes van die regte Brood van die Lewe leer en van die regte Brood inkry.  Daardie brood is genesend!!!  Weer kom hierdie Brood terug na 'n vorige Blog wat die Here my gelei het om te skryf, wat gehandel het oor die die Woord wat ons moet inneem.  Jesus is die Woord, Hy is die Lig, Hy is die Waarheid, Hy is die Lewe!!!  As jy die Woord inneem, neem jy Jesus in, jy neem Lig in, jy gaan die Waarheid leer ken, en Hy gaan vir jou Lewe gee!  Nie net 'n ewige lewe nie, maar ook 'n gesonde lewe op aarde.  Wanneer jy die Woord  - Jesus - inneem, begin Hy op so manier leef binne jou dat Sy bloed deur jou are bruis en deur jou hart pomp.  SY bloed het spesiale vitamienes en minerale wat ons liggame nodig het om op te voed en te lewe.  Sy bloed genees ons.  Dit begin in die siel en spoel dan oor na die siel en uiteindelik na die liggaam.   

Jou gees, siel en liggaam is een.  Wanneer jy jou liggaam en siel met wêreldse gemorskos voed, verhonger jou gees.  Maar wanneer jy jou gees begin voed, speel dit oor na jou siel en liggaam.  As jou gees gesond raak, raak eers jou siel en dan ook jou ligaam gesond.  Dit kan nie andersom werk nie.  Geen kos op hierdie aarde kan jou genees nie,net die Manna!  Hope en hope en hope Manna!   Ons moet ophou om ons liggaam en siel te voed met nitty gritty wêreldse goed soos die mense in Joh wat net wonderwerk gesnesing wil hê en hulle honger mae wil voed.  Ons moet ophou soos daardie mense om vir God te probeer misbruik net sodat Hy ons moet genees.  Hy gaan nie na jou luister as jou hart nie rein is nie.  As jy nie liefde in jou hart vir Jesus het nie, en jy by Sy voete kom sit net omdat jy gou 'n vinnige genesing wil kry, gaan jy dit nie kry nie.  Jy gaan ook nie vir God so vind nie.  God se oë deurloop jou hart, hy toets jou hart en niere en Hy weet wat aangaan jou gedagtes.  Moenie vir God as 'n agterdeur gebruik nie, Hy gaan Hom nie steur aan jou nie.  Dis hoekom daar soveel mense is daar buite wat sê hul bid en bid en vra en vra vir God,maar Hy luister nie.  Maar Hy ken jou hart, dis hoekom.  As jy hom soek net vir wat jy daaruit kan kry, gaan jy Hom nie vind nie.  Maar as jy Hom gaan soek in die Woord omdat jy vir Hom begin lief raak het, gaan jy Hom vind.  En Hy sal jou begin voed.  En Hy sal jou genees!  

As jou gees nie gesond is nie, is jou siel ook nie gesond nie.  Dan is die kans goed dat jy jou gees met gemorskos voed, want dan gaan jou siel en liggaam deurtrek van die siektes wees.  Jou siel is jou gedagtes, emosies en wil.  As jy jou gees voed met gemorskos, gaan jou gedagtes altyd negatief wees, jy gaan onvergewinsgesind, bitter, haat, jaloesie, geïrriteerd, onvriendelik ens ens ens wees.  Al hierdie  negatiewe goed kom uit 'n siek gees uit.  As daar goed soos haat, bitterheid en onvergewinsgesindheid  in jou is;  as jou gedagtes en emosies altyd 'n warboel van negatiewe en slegte emosies en bittere naywer is, gaan dit weer deurspoel na jou liggaam toe.  Dan gaan daar siektes en skete in jou liggaam wees.  Ek sê nie alle siektes kom uit 'n siek siel en gees nie, maar wel die meeste daarvan.

So gaan sit rustig en stil by Jesus se voete, gaan lees Joh 6 mooi deeglik deur en gaan bedink jou eie lewe.  Gaan toets jouself aan Joh 6 of jy ook Jesus net met tye kom soek wanneer jy nie lekker voel nie of as jy dalk honger is.  Soek jy Jesus om in jou eie behoeftes te voorsien?  Of spandeer jy elke dag 'n tyd aan Hom omdat jy lief is vir Hom en wil luister na wat Hy sê, kry jy dit reg elke dag om vir 'n ruk lank jou rug op wêreldse goed draai om te eet van die ware Brood van die Lewe?

In Deutr 8:3 het Moses al vir die volk gesê:  "En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan."

Job 22:22:  "Neem tog uit Sy mond onderrig aan, en lê Sy woorde weg in jou hart"

Die Woord is so soet soos heuning, neem dit elke dag in.

Ps 81:10:  "Open your mouth wide and I will fill it."

Ps 34:8:  "Tate and see that the Lord is good."

Ps 119:103:  "How sweet the taste of Your promise is.  It tastes sweeter than honey."

No comments:

Post a Comment